Grootste bankroof in SA geskiedenis: 60 kliënte dagvaar ENB

KAAPSTAD. – Die grootste bankroof in die geskiedenis van Suid-Afrika gaan straks ‘n nadraai in die hof hê met 60 slagoffers van die roof wat Eerste Nasionale Bank nou dagvaar vir R121 miljoen omdat die bank na hul mening nie genoegsame sekuriteitsmaatreëls aangebring het voor die roof nie en ook nie hul eise wil uitbetaal nie.

In September 2015 was daar ‘n bankroof by ‘n tak van Eerste Nasionale Bank (ENB) in die Sunnypark-gebied in Pretoria. Die waarde daarvan is onbekend, maar minstens R7 miljoen se items is uit sluitkissies geroof.

Tussen Kersfees en Nuwejaar 2016 was daar twee bankrowe in Johannesburg by die Randburg en Parktownse takke van ENB.

Daar was fyn professionele en logistieke beplanning. Die rowers het byvoorbeeld by Randburg ingebreek via ‘n gat wat hulle gesny het in die vloer van die manstoilette- daar was nie ‘n kamera in die manstoilet nie.

Hulle het die CCTV-sekuriteitskamera gesteel sodat hulle nie geïdentifiseer kan word nie.

By Randburg is daar 360 sluitkissies met ‘n geraamde van minstens R200 miljoen gesteel.

Trudie Broekmann Prokureurs in Kaapstad tree nou op vir sestig kliënte wat slagoffers is van die rowe.

Die bank sluit aanspreeklikheid uit vir enige skade of verlies van die inhoud van die sluitkissies omdat die kliënte ingevolge hulle kontraksterme. Daarin staan in die fynskrif dat die bank nie regtens verantwoordelik sal wees vir enige verlies of skade van die inhoud van die kissies nie.

“Dit ondermyn natuurlik die hele doel daarvan om waardevolle items by die bank te stoor. Ons is egter vol vertroue dat in terme van die reg die klousules nie afdwingbaar is teen ons kliënte nie,” het Trudie Broekmann gesê.

‘n Sekuriteitskundige wat die eisers bygestaan het, wys daarop dat die bank se sekuriteitstelsel oneffektief en ontoereikend was.

Daar is ook getuienis van samewerking deur werknemers deur lede van Eerste Nasionale Bank met rowers wat die bankrooftogte gefasiliteer het.

Beeldmateriaal van die interne sekuriteitskamera in die Parktown tak wys duidelik dat die bankbeampte wat die kluis moet sluit op die vooraand van die rooftog die deur na bewering toegestoot het, maar nie gesluit het nie.

In die Sunnypark-tak is daar getuienis wat wys dat ‘n ENB sekuriteitsbeampte baie van die alarmsones by die bank deaktiveer het net voor die roof.

Dit dui weereens op vermeende samewerking tussen ENB en die rowers.

Baie kliënte het Krugerrande, versamelings muntstukke, juweliersware en erfstukke verloor in die rooftogte wat op die sluitkissies uitgevoer is.

Enkele dae ná die Randburg- en Parktown-rooftogte is oopgebreekte sluitkissies langs die FNB-sokkerstadion gevind.

Daar is twee verbruikerswette wat die bank aanspreeklik maak vir vermeende nalatigheid.

Die Verbruikersbeskermingswet bepaal in artikel 51 dat ‘n voorsiener van dienste nie aanspreeklikheid kan uitsluit vir growwe nalatigheid nie.

Die Wet op Finansiële Instellings (Beskerming van Fondse) reguleer trust-eiendom soos die eisers se besittings wat by die bank in die sluitkissies gehou is. Ingevolge die wet word daar van ‘n bank vereis om die uiterste goeie trou uit te oefen sowel wat sy vlak van sorg en versigtigheid betref ten opsigte van gedeponeerde goedere.

Dit maak ENB se uitsluitingsklousule ongeldig waarvolgens die bank homself verskoon van hierdie versigtigheidsplig.

By Randburg was daar besorgdheid dat die sekuriteit van die tak nie relatief tot die waarde van die goed wat geroof was, genoegsaam was nie, volgens die sekuriteitsdeskundige.

By dié bank, wat ‘n gesentraliseerde stelsel gehad het waar sluitkissies ter waarde van R200 miljoen bewaar was, was die vlak van sekuriteit nie in ooreenstemming met die groot aantrekkingskrag wat hierdie bank vir vermeende rowers gehad het nie.

Die CCTV-stelsel is nie gemonitor weg van die bank by ‘n bepaalde hoofkantoor nie, Dit dui op ‘n eenvoudige voorbeeld van die tekort aan sekuriteitsorg. “Vir ‘n bank met soveel waarde in hom, was daar nie verskeie vlakke van sekuriteit wat nodig is om dit genoegsaam te beskerm nie.”

Broekmann het gesê die sekuriteitshek voor die bank se arm was gebreek en was van sy spoortjies af. Die twee sekuriteitsbeamptes wat die bank bewaak het, het nie ‘n paniekknoppie gehad wat hulle kon druk voor of ten tyde van die rooftog nie.

Jy kon direk in die gebou inry en die rowers het van onder die parkeerarea ‘n gat geboor om in te kom in die manstoilet, waar daar geen alarm-sensors was nie.

Die gewone alarm-protokol is nie gevolg nie. Chubb moes mense uitgestuur het om ‘n beampte van die bank daar te ontmoet en die bank te inspekteer, maar dit het klaarblyklik nie gebeur nie.

Die rowers het minstens een drieton-vragmotor gebruik om sluitkissies uit te ry – dis asof hulle geweet het hoeveel sluitkissies betrokke was.

Rowers het ‘n geskatte ses uur nodig gehad om toegang tot die bankkluis te kry.

Ná die rooftog het Eerste Nasionale Bank assessore aangestel om die eisers aan te moedig om eise in te stel en sekers mense het as gevolg daarvan met die bank geskik.

“Ons (60) kliënte het nie ‘n redelike aanbod ontvang van die bank nie, en dis waarom ‘n dagvaardiging nou op die bank bestel is,” het Broekmann gesê.

Aslam Moosajee, regsverteenwoordiger van Eerste Nasionale Bank, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Persverklaring uitgereik deur Fanie Heyns namens Trudie Broekmann Prokureurs. Vir nader inligting, kontak Heyns op 021-4345237 of Broekmann op 021-4220269.

  , , , , , , ,